Die vingerverhale
van Breyten


Murray La Vita

Breyten Breytenbach kom die vertrek binne met wat hy beskryf as “ ’n paar raap-en-skraap-goed” onder sy arm.

Een daarvan is die bundel Vingermaan wat in 1980 gepubliseer is om saam te val met ’n uitstalling in Amsterdam van sy tronktekeninge. Die tekeninge is vergesel van gedigte deur digters soos Lucebert, Gerrit Kouwenaar, Bert Schierbeek, Rutger Kopland en H.C. ten Berge.

“Dit is gevangenistekeninge wat uitgesmokkel is destyds – die eerste besending wat uitgekom het toe hulle nog genoeg aas uitgesit het met die hoop dat ek nog ander dinge ook gaan probeer uitsmokkel.” Breyten is in 1975 tydens ’n besoek aan Suid-Afrika in hegtenis geneem en uiteindelik tot nege jaar tronkstraf gevonnis weens ’n oortreding van die Wet op Terrorisme. Hy het sewe jaar uitgedien – aanvanklik in Pretoria en later in Pollsmoor in die Kaap. Vir ’n groot deel van dié tyd was hy in eensame aanhouding.

Terwyl Breyten in Pretoria in die maksimumveiligheidsafdeling van die tronk was, het die owerhede ’n bewaarder aangesê om sy vertroue te wen en vir hom briewe en kunswerke uit die tronk te smokkel in die hoop dat hy ook inligting sal uitstuur wat vir hulle meer van sy politieke planne en bedrywighede te wete sou laat kom.

Voor ons lê ’n noukeurige afbeelding van ’n opgevoude gevangeniskombers.

“Wat vir my interessant is, is hoe die temas naderhand terugkom op verskillende maniere. Die toutjie en die voue en tot ’n mate die ruimte. ’n Ou het natuurlik hierdie goed gemaak omdat jy nie iets anders kón doen nie. Dit moes in plek staan van wat jy normaalweg mee besig sou wees – skilderye of so. En dan was jy ook tot ’n mate besig om jou eie museum op te bou. Jy teken goed wat jy min of meer onthou, selfs al kon jy hulle nie hou nie.”

Hy blaai om.

“Hierdie is net ’n hotnotsgod wat in die sel ingevlieg het . . . dis potloodtekeninge, almal op A4-papier. Dis een van die redes hoekom ek dit nie meer uitstal nie, tensy dit werklikwaar goed beskerm kan word, want dit het so broos geword.

“Kyk, hierdie is byvoorbeeld na Pieter Breughel; dis net ’n karakter uit een van sy skilderye. Ek is seker daarvan, net soos met die geskrifte wat hulle onderskep het, dat hulle fotokopieë gemaak het en dan het dit blykbaar uiteindelik op die lessenaar van die sielkundige in Pretoria beland – die in-house psychologist. En dit sal interessant wees hoe hy die goed geanaliseer het . . . Maar nou ja.”

Breyten se stem is nou rustig, amper teer. Daar is die effense bry. Maar daardie stem kan in ’n oogwink heftig en somber word, veral as hy hom uitlaat oor wat hy beskou as die stommiteite van sekere Suid-Afrikaanse politici.

’n Gesprek met die man wat reg oor die wêreld beskou word as een van die grootste skrywers en kunstenaars van ons tyd (die New Yorker het hom beskryf as “an Afrikaner Dante”), word gekenmerk deur ’n wye doek waarop gelyk eenvoudige en speelse mededelings én ingewikkelde metafisiese begrippe naas mekaar verskyn.

Wat die luisteraar ook sal beleef, is ’n vonkel in sy oog, die sardoniese blik, en ironie wat hy veral teen homself opstel.

Sy hand rus op ’n tekening:

“Hierdie het ook weggeraak, ek weet nie wat daarvan geword het nie. Ek is nogal lief hiervoor. Hierdie karakter kom ’n hele paar keer in party van die werke terug, veral met die hoed en so.”

Hy is naby aan die “dodeselle en die teregstellingskamer” aangehou. In The True Confessions of an Albino Terrorist (Faber and Faber, 1984) skryf Breyten:

“Lying in my cell I was obliged, as we all were, to assist at the horrible final leave-taking, since sounds from the visiting cubicles flooded the corridors – the wailing of the wives and the mothers, the screaming perhaps of a baby who had, exceptionally, been allowed into the prison for that last visit.” (p. 231)

Waarna ons nou kyk, is ’n skets van ’n man se kop: geen baard, die pupille is groot. Presies tussen die oë is daar ’n klein ronde uitstulping soos ’n derde oog of ’n bindi, daardie merkie wat in Indië tussen die wenkbroue aangebring word op die plek waar wysheid sou skuil. Veral daaraan herken ons die man as die gevangene Breyten Breytenbach. Waar hy vandag hier staan – bruingebrand, grys baard, koperarmband waaraan ’n kauri-skulpie geheg is, jeans, ligblou kortmou-linnehemp, leersandale – val daardie punt tussen sy oë weer op.

Onder die kop is ’n brief en twee uitgebrande vuurhoutjies.

“Dis waarskynlik ’n brief, miskien van Yolande (sy vrou) of so.”

Voorts is daar sketse van onder meer ’n kop waarvan die mond toegewerk is en die oë bedek is met ’n “flappie” – die bedekking wat voor ’n veroordeelde se oë geplaas is net voordat hy of sy gehang is. Die gevangenes is ook flappies genoem, sê Breyten. Wanneer ons na ’n gevangenisbaadjie kyk, sê hy: “Ek het probeer om ene te kry toe hulle my ontslaan, maar hulle wou nie vir my ene gee nie. Dis blerrie lekker baadjies daardie.”

’n Afbeelding van genl. Franco en een van Beethoven se pa of oupa, verskyn ook in die sketse. Dit is uit geheue geteken.

“Dis nie afgeteken nie en waarskynlik is dit heeltemal ver weg van die oorspronklike. Dis ongelooflik wat na jou kant toe kom as jy niks anders het om te doen nie.

“ ’n Mens verdiep jou so as jy in daardie omstandighede is, dis asof jy ín die papier ínwerk. Jy sal nie nou se dae . . .ek weet nie of dit nog moontlik is vir my om te gaan sit en so lank aan een tekening . . . dis die énigste ding wat jy het; alles word gekonsentreer.”

Die ontmoeting met Breyten vind plaas in ’n huis in Oranjezicht waar sy werke gehou word wat op die Suidoosterfees uitgestal gaan word onder die titel Vingerverhale. Dit is by die 100 werke in ’n verskeidenheid van mediums en formate wat hy oor die afgelope 50 jaar geskep het.

Ons gaan sit en Breyten begin praat oor sy estetiese ontwaking as kind.

“As ’n mens nou daai ouderdom is, vergelyk jy mos nie jouself met ander mense nie. Jy kom nie agter dat dit miskien iets buitengewoons is nie; ’n buitengewone belangstelling is nie. Ek onthou dat ek van baie kleins af beïndruk was deur afbeeldings op glanspapier. Dit was waarskynlik ou Victoriaanse engeltjies en pilare en dié soort van dinge. Maar vreemd genoeg, dis alles dinge wat – in my geheue in elk geval – deur my oudste broer (Jan) na my gebring is. Ek dink nie dat dit nou nog enigsins, of selfs toe, sy eie belangstelling weerspieël nie. Hy het gehou van boeke.

“Ek kan nie onthou dat ons werklikwaar veel visuele materiaal in die huis gehad het nie. Natuurlik, ’n ou word groot in ’n skouspelagtige omgewing: in die Klein Karoo langs die Breërivier en dan in Riversdal se distrik; die Boland daarna.

“Die eerste tekening wat ek kan onthou wat ek sélf gemaak het, moes in 1948 gewees het toe die Nasionale Party die verkiesing gewen het, want ek onthou ek het ’n spotprent geteken van dr. Malan wat vir Jannie Smuts uitknikker in ’n bokskryt. En ek onthou want ons het nog op die werf in my pa se ou motorkar gesit om te luister na die verkiesingsuitslae. Ek was waarskynlik so agt, nege jaar oud. Dit is die eerste keer wat ek kan onthou dat ek werklikwaar iets probeer doen het wat nou nie net ’n nateken was van iets wat ek gesien het nie.

“En toe daarna het die belangstelling begin optel, waarskynlik hierso van vroeg hoërskooldae in Wellington. Daar was nogal ’n hele paar skilders wat in die omgewing gebly het.

“Ek het gehoor van Jean Welz in Worcester. Ek onthou ek het met my bromponie soontoe gery, maar toe was ek nou al eerste jaar op universiteit. Ek het gaan kuier en vir hom en al die Welz-broers leer ken. Hulle was almal sulke láng ouens gewees.

“En toe begin ek baie belang stel in skilderwerk. Die eerste buisies verf wat ek present gekry het, was van ons musiekonderwyser op die dorp, ’n man met die naam van Henry Kuit. Hy het so ’n wilde bos blonde hare gehad en hy was die orrelis in die kerk, maar hy was ’n vreemde persoon in die gemeenskap in die sin dat hy Rooms-Katoliek was en hy het ’n hele huis vol kinders gehad wat gelyk het of hulle almal tegelyk grootgeword het. Afrikaanstalig van huis uit maar hy was nie van die Boland nie, hy het van ’n ander deel van die land gekom. Maar baie sensitief en ’n fantastiese pianis en ’n wonderlike musiekonderwyser.

“En ek het by hom musieklesse begin neem en hy het geweet ek stel belang in skilderkuns en ek dink hy het vir my die geld gegee om buisies verf te koop en kwaste en so. Hy het my baie aangemoedig.”

Ons praat oor sy studie aan die Universiteit van Kaapstad se kunsskool Michaelis en sy daaropvolgende vertrek na Europa.

“ ’n Ou moet in gedagte hou die sosiale lewe waarin ek betrokke was, het baie gewentel rondom Jan Rabie en Marjorie Wallace en Erik Laubscher en Claude Bouscharain natuurlik; Richard Reeve, Peter Clarke, Ingrid Jonker, Abraham de Vries tot ’n mate; Marius Schoon.

“Dit was daai oorgangsplek tussen politiek, of betrokkenheid dan . . . aktivisme, en sê nou maar die boheemse leefstyl. En dan werklike . . . ’n mens het die gevoel gehad hier het jy iets gehad wat werklik vir jou oopgaan. Vir die eerste keer kom ek in aanraking met die vertaalde werk van Paul Éluard, Suid-Amerikaanse digters, die goed waaraan Uys gewerk het, en natuurlik Jan – Jan was ’n absolute mentor, op állerlei maniere.”

Hy glo in die Oosterse manier van kyk na betekenis.

“Wat ons die metafisika van die oppervlak sou noem. Met ander woorde: ek is heeltemal nie geraak deur die idee dat jy iets kry wat dieper lê as waarna jy kyk nie. Dit is nogal een van die redes hoekom ek ábsoluut nie geneig is om . . . mense soek na betekenis; veral as hulle sien daar is iets wat narratief werk wat tot hulle spreek, maar hulle kry net nie die draad nie; hulle weet nie presies waarna dit verwys nie en hulle wil die storie hê.

“Uit die aard van die saak is dit byna vanselfsprekend dat die storie dan iets sal wees wat, ’n mens wil amper sê op ’n Van Wyk Louw-manier die ‘dieper draaiende donker’ onderbewussyn, die Jungiaanse of die Freudiaanse onderbewuste toelig.

“Dis miskien trouens een van die redes hoekom ek so ’n hele ry broertjies dood het aan die sielkunde – omdat hy so by die hare bygesleep word. Ek dink dit bestaan in alle lewensfilosofieë en alle kulturele ervarings. ’n Mense tel dit baie op in die Oosterse manier van dink en doen en byvoorbeeld die manier waarop Afrika-gelowe hulle gode en hulle bose geeste besweer – ritualisties of deur die sjamanisme. Dit is alles maar net daarop gemik dat daar die onbeteuelbare en miskien dieper strominge is, maar dit beteken nog nie dat ’n mens dit kan reglementeer en daarvan ’n soort van leesboek maak nie.”

Louise Viljoen verwys in haar resensie van Katalekte, Breyten se jongste digbundel, na sy gebruik “om bepaalde gegewens deur sy oeuvre te sirkuleer sodat hulle funksioneer soos persoonlike argetipes wat weer en weer uit die onbewuste na bo styg. Daar is byvoorbeeld die herhaalde verwysing na die ouers, die geboortedatum 16 September, die (yster)koei, die voël, die hond, die perd, die bobbejaan, die nar, die pampoen, die gebreklike of verrottende hande, klip, wind, stof, vlerke en vlug”.

“Behalwe miskien vir die onbewuste (waarna sy verwys), stem ek saam. Dis iets wat ’n mens baie gou agterkom as jy self skryf. As jy dieselfde woorde gebruik of dieselfde ritme of dieselfde beeld, op verskillende maniere, dan begin daai ding gelaai word deur betekenisse en byklanke en verwysings wat resoneer. ’n Mens soek die resonansie natuurlik – absoluut; ek is absoluut oortuig daarvan.”

Van dieselfde “persoonlike argetipes” as dié in sy skryfwerk kom natuurlik ook herhalend in sy beeldende kunswerke voor. En ook dikwels die kunstenaar (BB)self, of een van sy alter-ego’s.

“Dis hoekom ek jou bedag gemaak het op die toutjies en die klippe en die afgekapte hande wat toe al daar was en waarskynlik voor die tyd al daar was en nou nog, en dit word nog sterker.

“ ’n Mens ontwikkel jou eie woordeskat. Ek dink narratief . . . die feit dat daar iets gebeur wat jou daartoe bring of daartoe noop – die persoon wat daarna kyk – om ’n eie storie te maak daarvan, ek dink dít is eintlik wat ’n mens soek. Die voorwaarde sou wees dat ’n mens dan nie jóú eie storie . . . verby ’n sekere punt is jy maar net ’n toeskouer soos enigiemand anders.

“As jy byvoorbeeld nou gaan oplees wat ou Henri Rousseau gesê het oor sy eie skilderye. Wat hy gedink het hy doen, en wat ons dink waarmee hy besig was – dis twee heeltemal verskillende dinge. En dis oukei; dis oukei, ek het vrede daarmee.”

Georges Marie Lory, die vertaler van Breyten se poësie na Frans, beskryf in Painting the Eye (David Philip, 1993) hoe hy en ’n groep kunstenaarsvriende van reg oor die wêreld op ’n nat Januarie-middag in 1976 aan die voetheuwels van Montmartre in ’n binnehof (omgeef van ’n vreemde stilte) byeengekom het. Hulle het vandaar na Breyten se ateljee gegaan waar ’n Bulgaarse televisie-opname gemaak is waarin hulle protes aangeteken het teen Breyten se vonnis en sy eensame aanhouding.

Hy skryf hulle was dit almal eens dat Breyten onder die grootstes in die internasionale kunsgemeenskap tel en hy (Lory) was hom daarvan bewus dat Breyten se skilderye “ligjare verwyder was van die smaak van Wit Wellington”.

“Breyten se eerste werke het ons in die maag getref; dit was soos om ’n snydokter se operasietafel te aanskou: sy verminkte, half blinde karakters sleep hulself voort, gooi hulself teen tralies, braak donker pype uit, en raap na onrusbarende insekte. Goya en Bosch teen ’n leë agtergrond. Montmartre, hierdie ‘heuwel van martelare’ huisves morbiede, wrede bedrywighede wat in ongelooflike kontras staan tot die soepel, sensuele lyn van Lotus, wat ek in daardie stadium besig was om te vertaal.”

Lory werp verder lig op die verhouding tussen Breyten se skryfwerk en sy skilderwerk deur sy beskrywing van ’n selfportret wat Breyten op die muur van sy ateljee geverf het.

“ . . . verfkwas in die een hand en veer in die ander een, met daarbo die woorde werkwantdienagkomnader . . . Breyten word deur die beeld opgesom: sy konstante behoefte om te skryf én te verf; die plesier wat hy daaruit put om woord en lyn te meng.”

Hy deel ons dan mee dat iemand wat die ateljee gehuur het terwyl Breyten in die tronk was, die beeld doodgeverf het.

“Hy is in Katalekte! Dis daardie swart-wit-foto’tjie. Ek dink hy is verkeerd as hy praat van ’n veer, maar ek het definitief die kwas in my hand. Jy sal sien, ek dink daar is ’n bottel daar en dit is waarskynlik terpentyn, maar ek dink amper een van die bottels bevat nog ’n bietjie boegoeblare,” sê Breyten.

Hy neem die bundel en kyk ook na die foto.

“Wie sou die foto geneem het? Dit moes Yolande gewees het wat dit geneem het. In elk geval . . . Alles is min of meer daar: die vuurhoutjies en die pyp en die dinge . . . daar lê die pyp ook, ja.”

Onder die selfportret is ’n afbeelding van ’n skedel.

“Daardie skedel het ek nou nog. Hy travel saam met my van een ateljee na die ander. My swaer, wat ’n dokter was, het dit op een of ander mediese skool gekry of gesteel of so, en ek het dit by hom afgerokkel. Ek neem aan dit is ’n soort van ’n vanitas, om jouself te herinner aan die . . . (onafwendbaarheid van die dood)

“Baie skrywers doen dit ook. Ek raai dit dikwels vir die . . . as ek nou met jong mense saamwerk raai ek hulle aan om, as hulle vashaak, die goed uit te druk en teen die muur te plak – die velle, letterlik. Al is dit ’n roman. Net die blote feit om daarmee saam te lewe sonder dat jy noodwendig daarna kyk. Ek dink dit maak wérklikwaar ’n verskil. Ek dink mense onderskat ongelóóflik veel die krag van die wisselwerking tussen die visuele en die betekenislaag of die woordlaag.

“Ek kom nou agter dat in Spanje (Katalonië, waar hulle ’n deel van die jaar woon) begin ek weer sommer direk op die mure teken of skilder. Dis lekker. Dis ook ’n manier om dit van jou weg te kry en die moontlike giftigheid . . . die angel daarvan, te trek. Dat ’n mens nie so verslaaf raak aan jou eie dinge nie; dat jy nie dink dis so wonderlik nie.

“Dis omtrent die enigste ding wat ek sal sê ten gunste van slypskole, skryfskole, want as ’n mens nou gedwing word om ’n voorlegging te doen en uit jou eie werk hardop voor te lees en dit word krities geanaliseer deur jou eweknieë, dan dink ek begin ’n ou baie gou wegstaan van jouself en sê: Ek is miskien nie hééltemal die kat se snorbaard nie.”

Breyten was tot onlangs buitengewone professor aan die New York University waar hy ’n kursus in kreatiewe skryfwerk aangebied het.

Wat het sy ouers van sy kuns gedink?

“My ouers het ’n baie gesónde omgang met kuns gehad. Ek het onder Lippy Lipschitz gewerk by Michaelis. Hy was ’n besonderse persoon gewees. Ek is nie van aanleg ’n beeldhouer nie maar ek onthou ek het so ’n paar beelde gemaak en my ma het dit eenvoudig gebruik om die deur oop te hou of as deel van die blompotte.”

Hy glimlag.

“En net so met die skilderye. Ek onthou my ma het . . . ek dink nog dit is een van die mees wonderlike estetiese uitsprake wat ’n mens kan maak: ‘Maar jy het mos nou genóég skilderye gemaak. Jy kan ’n hele kamer vol hang.’” Hy neem met ’n swaai van sy arm die vertrek in waarin ons sit en waar sy werke op en teen die mure en op die vloer wag om na die Marmer-foyer van die Operahuis in Kunstekaap geneem te word en daar gehang te word. “Wat wil jy dan nog meer doen? Kan jy dan nou nie ernstig raak en begin karre regmaak of wat ook al nie?”

“Sy’t nou nie so gesê nie, maar . . . Nee, hulle het ’n baie normale omgang gehad. Van die werklike ouer werke begin nou hier en daar opduik; van daardie periode trouens. Die enigste waarvan ek bewus is wat oorgebly het van die studentejare en wat waarskynlik by my ma agtergebly het, want ek het ’n soort van ’n werkkamer daar gehad in Grevilleas (in Wellington, vandag ’n kunsgalery en die Breytenbachsentrum), en toe maar onder die familie verdwyn het. ’n Nefie het byvoorbeeld onlangs geskryf en gevra of hy een van die goed mag verkoop.

“Dit is ’n selfportret van ’n ou wat vreeslik dramaties met so ’n soort van ’n rolnek donker trui aan staan en druiwe eet. ’n Mens kan amper sién waar dit vandaan kom – die soort van romantiese, Europese invloed.

“Nee, ek dink hulle was bly om te sien dat . . . maar hulle moes in hulle harte van harte gedink het dié man is totáál van sy kóp af. Hoe gaan hy ooit ’n lewe kan maak?

“Maar ek het nooit gevoel daar is enige afkeer of kritiek nie; hoegenaamd nie, nie polities nie, nie literêr nie, dit was ’n soort van ’n onvoorwaardelike en byna ’n organiese solidariteit. My pa wat byvoorbeeld bedank uit die kerk net omdat die dominee ’n groot preek gaan afsteek het teen die Sestigers – dié soort van ding. Hy het dit nie eers gehoor nie; hy was aan die slaap in die ouderlingebank, maar toe die ander ouderlinge nou agterna met hom kom simpatiseer, toe bedank hy nét daar.”

In sy vroeë jare in Europa het Breyten in Nice om den brode portrette van mense geteken.

“Ek het in ’n nagklub gewerk en in ruil vir ’n daaglikse bord kos . . . en ek kon die tekeninge verkoop vir tien frank elk. Maar die probleem was dit was ’n baie klein nagklub; ek dink hulle het tien of twaalf gereelde klante gehad. Nouja, toe húlle hul portrette gekoop het binne ’n periode van ’n paar maande, toe was daar nie meer enige inkomste nie. Maar ek het darem nog my bord kos gekry.”

Hy sê hy mag dit dalk weer doen. Eintlik het hy al. ’n Beeld wat my bybly, is Breyten kaalvoet en in ’n kortbroek met die seebries wat sy hare deurmekaar waai. Hy staan by ’n tuintafel gebukkend oor ’n reuse-portret van Jan Rabie.

“Die begrip van portrette begin my al hoe meer fassineer. Ek dink byvoorbeeld daai ding wat gemaak is van die toekomstige koningin is ’n aaklige skildery.” Hy verwys na Paul Emsley se portret van Catherine, hertogin van Cambridge. “Dis árm, dis pówer. Hoekom nie maar liewer net ’n foto doen nie? Dit is létterlik net ’n Victoriaanse soort van ’n chocolate box-affêre. Tegnies perfek; wónderlik.”

Willie Bester se reeks portrette van mense van Montagu vind hy voortreflik. “En dan natuurlik die werk van iemand soos Lucian Freud. Om nie eers te praat van Bacon nie. En dan kan ’n ou nou teruggaan na Goya en al dié mense.”

Breyten die skilder is amper soos ’n soort Rodriguez-figuur: hy is in die buiteland baie meer bekend as in Suid-Afrika, sy geboorteland.

“Ek het in Holland uitgestal, ek het in België uitgestal, ek het in Frankryk uitgestal, ek het in Italië uitgestal, ek het in Duitsland uitgestal, ek was op ’n skilderbeurs in Berlyn gewees . . . Daar is van my werk in lieflike Europese versamelings en museums, daar is ses van die werke wat aangekoop is deur die Franse staat, daar is ’n werk op die eiland van La Réunion, daar is ’n werk in die museum van Den Haag, daar’s waarskynlik ’n werk in Brussel, in die kultuurhuis in Stockholm, ensovoorts, ensovoorts, ensovoorts.”

Sy stem raak hees. Hy het pas van brongitis herstel.

“Dit is net iets wat nóóit met my hier sou gebeur het nie en wat waarskynlik ook nie sin sou gehad het nie.”

Hy praat oor die kunsgemeenskap waarin hy hom bevind het nadat hy Suid-Afrika verlaat het.

“Die mense met wie ek omgang gehad het, my tydgenote, was skilders uit Spanje, Italië, uit Latyns-Amerika, natuurlik. Die mense wat ’n onmiddellike invloed op jou gehad het, was mense soos Lam, die Kubaanse skilder met sy vreemde, sprinkaanagtige figure . . . En dan natuurlik ’n bietjie vroeër – Edvard Munch, Gauguin, Cézanne, Van Gogh . . . Van Gogh in fases, partykeer is dit soos om Sylvia Plath te lees . . . ’n mens is heeltemal passievol daaromtrent en dan word dit net te veel en dan beweeg jy verder. “En dan ook Soutine, Modigliani . . . eintlik al die moderniste. Ek het minder vat gekry op die abstrakte kunstenaars, die Ecole de Paris.”

Robert Walser se gedagtes oor die Bleistift Gebit fassineer hom.

“Ek hou van die begrip: die potlood-gebied; die land van die potlood. Dis die moedertaal; die Afrikaans wat ek van praat. Daar is niks fancy daaromtrent nie.” Hy bly ’n oomblik stil. “Jy kan jou nie indink dat jy iemand se doodsvonnis in potlood uitskryf nie.” In Painting the Eye skryf hy om ’n potlood te gebruik is soos om Afrikaans te praat.

“Dit is so, ja. Baie beslis. Ja, potloodtekeninge is definitief Afrikaans. Ek wonder . . . Ek moet dit tog eendag vir myself probeer uitwerk; ek weet nie.

“Ek dink dit het iets te doen met die onmiddellikheid daarvan, op dieselfde manier as wat ek probeer beweer Francois Krige het op Afrikaans geskilder. Ek dink dit is die keuse van wat hy doen, die lig wat hy gebruik; daar is ’n handevaardigheid, ’n mate van nederigheid, ’n manier van jou opstel teen die berge en die huise en die bome.”

Daar is niks, sê hy, wat tussen jou en die potlood kom nie.

Die uitstalling
  • Die uitstalling Vingerverhale is deel van die Suidoosterfees. Dit duur van 31 Januarie tot 17 Februarie in die Marmer-foyer van die Operahuis in die Kunstekaap.
  • Die uitgestalde werke op papier (tekeninge, etse, steendrukke, collages), doek (skilderye, rolle of baniere), en as objekte (boeke, klippe) word ingedeel in tien vingerverhale.
  • Die uitstalling bied nie ’n geheeloorsig van werke wat oor vyftig jaar ontstaan het nie; die grootformaatdoeke en baie van die tronktekeninge is nie beskikbaar nie.
  • Om nader besonderhede besoek www.suidoosterfees.com of skakel die feeskantoor by 021 406 2900.

    Bron: Suidoosterfees-program.

Sy eerste kunswerk



SA kunstenaars van wie hy hou



Wat sy ouers van sy kuns gedink het



FOTO'S: Le Roux Schoeman